To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Grondopknappers

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

Moets en moenies vir bemesting asook resepte om jou eie plantbrandstof te maak.

Daar is geen vaste reëls vir bemesting nie, maar 'n produktiewe groentetuin het dikwels minder misstof nodig as wat 'n mens dalk dink. Dit is net in Februarie dat gewasse met 'n langer groeityd, soos tamaties, eiervrugte, rissies en langseisoenskorsies, voeding nodig het omdat hulle die voedingstowwe in die grond uitgeput het. Goeie grondvoorbereiding is die grondbeginsel van voedseltuinmaak. As jy jou grond met elke nuwe aanplanting deeglik voorberei, behoort daar genoeg voedingstowwe te wees vir die groeisiklus van die meeste gewasse. Dit bring ook nog 'n voedseltuinbeginsel oor die maksimering van hulpbronne ter sprake. Misstowwe is duur, en onnodige bemesting is geldmors en kan sagte, sapperige groei tot gevolg hê wat vatbaarder vir siekte is. Bemesting behoort net gedurende die groeiseisoen nodig te wees as jy tekorte opmerk wat reggestel moet word. Dit sluit in vergeling van blare – 'n behoefte aan stikstof – stadige, langbenige groei en 'n paar siektes soos blomendverrotting by tamaties wat aan 'n kalsiumtekort toegeskryf word. Snywurms is ook geneig om aktief te wees in grond met 'n kalsiumtekort. Grondtipe kan 'n invloed hê, veral sandgrond waaruit voedingstowwe gou uitloog. Te veel reën lei ook tot 'n voedingstoftekort. Bemes afsonderlike plante as hulle dit nodig het eerder as om alles te bemes, wat nie net duur is nie, maar ook blaarontwikkeling ten koste van vrugte aanmoedig.

Bemesting van voedseltuine

Plant- en grondopknappers bou plantgesondheid wat hulle meer bestand maak teen plae en siektes. Die opknappers is kelp- of visemulsies soos Seagro of Kelpak wat as blaar- en grondvoeding gebruik kan word, asook kompos en groen tees, wurmtee en wurmkompos of wurmhopies (fertilis). Volledige misstowwe word verdeel in chemiese (MultiFeed) en organiese misstowwe (Nitrosol, Margaret Roberts Supercharger en Vita Grow). Almal is effektief en koste en prestasie is die bepalende faktor by watter een om te gebruik. Ervare voedseltuinier Di-Di Hoffman verkies om eers opknappers te gebruik omdat hulle geneig is om die oorsaak van die probleem te behandel en nie bloot net die simptome nie. Hy beveel ook aan om nie 'n opknapper en 'n volledige misstof te meng nie omdat dit dan moeilik is om te weet watter een werk. Beproef liewer eers die opknapper en wag 'n paar dae. As daar geen reaksie is nie, dien die misstof toe.

Maak jou eie opknapper

  • Kompostee: Hierdie tee word eintlik van perde- of beesmis gemaak. Gebruik 'n houer met 'n deksel. Plaas een of twee handevol mis in 'n poreuse sak – 'n lemoen- of aartappelsak is goed. Maak die sak toe en laat dit aan 'n stuk hout oor die bokant van die houer hang. Maak die houer vol water sodat die sak soos 'n teesakkie hang en sit die deksel op. Roer die mengsel daagliks om die bakterieë wat uit die sak loog aan te moedig om die mis af te breek. Wees bewus daarvan dat dit nogal kan stink, maar dit is goed omdat dit beteken die bakterieë is aan die werk. Na twee weke behoort die tee reg te wees. Verdun een deel op tien dele water en gebruik dit net om die grond te deurweek. Die bakterieë sal in die grond afbreek, maar sal dalk nie afbreek as dit op die blare of vrugte aangewend word nie, wat jou gesondheid kan benadeel. Dien die tee tweeweekliks toe.
  • Belugte kompostee: Maak die kompostee soos hierbo, maar plaas 'n akwariumpomp onderin die houer. Dit belug die mengsel wat binne vier of vyf dae 'n bruikbare reuklose tee maak. Die enigste verskil is dat die mengsel aërobiese bakterieë bevat teenoor anaërobiese bakterieë wat met die tradisionele metode geproduseer word. Albei bakterieë is nuttig vir die grond.
  • Groen tee: 'n Groen tee word soos kompostee gemaak, maar benut die blare en stingels van plante soos smeerwortel, duisendblad en bernagie wat ryk is aan minerale. Gebruik die tee as blaar- en grondvoeding.
  • Kelptee: Diegene wat by die kus woon, kan pas opgetelde kelp gebruik om 'n tee te maak. Die kelp moet egter vars wees en moes nie lank op die strand gelê het nie.
  • Wurmtee: Wurmhopies wat in die handel te kry is, los baie maklik op in water en kan as grondvoeding gebruik word. Moenie dit as blaarvoeding gebruik nie. Wurmtee (die uitgeloogde vloeistof van wurmkompos) is ook 'n goeie grondvoeding. Die sterkte van die uitgeloogde vloeistof wissel. Donker mengsels kan verdun word in die verhouding van 1:20 en oplossings wat flouer lyk in die verhouding van 1:1.

Die gebruik van volledige misstowwe

Gebruik die helfte van die aanbevole dosis by die toediening van 'n volledige misstof, maar dien dit gereelder toe, met ander woorde, die helfte van die dosis weekliks of tweeweekliks in plaas van die volle dosis maandeliks. As dit so gedoen word, voorsien dit algaande voedingstowwe gereeld eerder as baie stikstof wat tot kort tye van verhoogde groei en dan minder groei lei. 'n Mens wil ook nie te veel groen blare ten koste van vrugteproduksie hê nie. Die optimale voedingstydperk is van die saailing- tot die blomstadium. As die vrugte eers gevorm het, help misstof nie. Vrugteproduserende groente is geneig om bestaande reserwes in die plant uit te put, dus sal toegediende misstof verlore gaan. Blaarvoedings, veral opknappers wat as blaarvoeding toegedien word, gee plante 'n hupstoot in baie warm weer. Dit is ook effektief in baie nat weer as die nat grond die opname van voedingstowwe deur die wortels verminder.

Kruie en groente om in Februarie te plant

Hou aan met opvolgaanplanting

  • Stambone
  • Wortels
  • Uie
  • Beet
  • Spinasie
  • Spinasiebeet
  • Blaarslaai

Begin saai

  • Blomkool
  • Kool
  • Seldery
  • Oosterse groente

Dit is die laaste maand om die volgende te saai

  • Spruitkool
  • Broccoli
  • Knolkool

Saai dekgewasse in beddings wat na die somergewasse skoongemaak is

  • Roket
  • Mosterd
  • Pronkertjies

Kruie om van saad te saai

  • Soet basiliekruid
  • Koljander
  • Kappertjies
  • Platblaarpietersielie

Groente van die maand - Blomkool

Die beste saaityd vir blomkool is Februarie of Maart op die meeste plekke in die land en Maart of April in warm gebiede soos die Laeveld. Kies in warm tuine die koelste deel van die groentetuin waar plante namiddagskadu kry. Blomkool groei die beste in vrugbare swaar grond. Werk baie kompos en 'n organiese misstof (2:3:2) in as die bedding voorberei word. Voeg kalk by effense suur grond. Saai op die plek en plant die groot sade minstens 10 cm diep en 45 tot 60cm uitmekaar. Dit is vir 'n gesin van vier waarskynlik net nodig om vyf plante per saaisel te hê. Die tyd tussen elke opvolgaanplanting – twee weke tot 'n maand – hang af van hoeveel blomkool die gesin eet. Beskerm pas ontkiemde saailinge met snywurmlokaas of hou die snywurms weg deur 'n leë kartontoiletrolletjie in die grond in te druk sodat dit 'n kraag om die saailing vorm. Die kartonrolletjie sal uiteindelik vergaan. Erd die grond om die saailinge op namate hulle groei om te keer dat hulle omval. Benat gereeld sodat die plante nie uitdroog nie. Bemes jou blomkool tweeweekliks met 'n kanttoediening van korrelmisstof of 'n vloeibare misstof. Blomkool is na 16 weke gereed om te oes. Hou die hele groeiseisoen dop vir plantluise. Gebruik 'n organiese plantdoder wat deur jou tuinsentrum aanbeveel word of spuit met 'n ligte seepwateroplossing. Wanneer die koppe ongeveer 10cm in deursnee is, vou 'n paar van die buiteblare oor die kop om te keer dat dit verkleur. Maak die blare op hul plek vas met papierknippies of tou. Oes die kop wanneer dit ten volle ontwikkel en mooi gerond is. Pluk dit voor dit begin vertak. Sny die kop met 'n paar toegevoude blare om met 'n skerp mes af, trek die hele plant uit en gooi dit op die komposhoop as dit siektevry is.

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs