To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Kruiwastorie: Kom Snoei Vanaand
By Anna Celliers

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

In my skoolbankdae was Valentynsdag heeltemal anders as vandag. Die oumense het hulle min gesteur aan dié foefie, dit was maar net nog 'n doodgewone dag. Maar die kinders by die skool het wild en wakker briefies vir mekaar gestuur. Dit was die een geleentheid wat jy gehad het om skelm en natuurlik anoniem, aan een en almal op wie jy so in die stilligheid 'n ogie gehad het, 'n liefdesbriefie te stuur met 'n mog-het-troffe hoop in jou hart. (Toeka, hier in die middeleeue rond, is seuns en meisies se name in 'n hoed gegooi en soos lootjies getrek. Dis dan aan jou mou vasgespeld en so het jy letterlik met jou hart op jou mou rondgeloop!)

Vir my, loshande die molligste dogtertjie in standerd vyf en dan nog boonop sonder twee voortande (ek het hulle uitgeval en nuwes het eers op hoёr skool weer teruggegroei) was Valentynsdag 'n nagmerrie – ek het nooit 'n briefie gekry nie! Jare later het dit ook nie juis beter gegaan met my liefdeslewe nie. Elke kêrel wat ek kon vang, is óf deur my kwaai Pa verwilder, óf weldra deur 'n pel óf my suster afgevry. Een blondekop-valentyn, 'n maer kraai van 'n seun wat ook omtrent 'n halfmeter korter as ek was, se aandag kon ek darem vir 'n jaar of so behou (seker maar omdat ek die enigste meisie was wat tevrede was om net skoolrugbywedstryde as 'n "date" te aanvaar).

Op 'n Valentynsdag nadat ek en hy darem noual 'n jaar so 'n los-en-vas-ooreenkoms had, het hy besluit dat ek 'n seëlringetjie verdien as simbool van ons kys. Dit was 'n mooi en fyn goue ringetjie in die vorm van 'n hartjie en nogals gegraveer…

Dit was nie my naam wat daarop ge-ets was nie, maar syne – Stanislav (hy was van Poolse en Hollandse afkoms). Ek was woes ontsteld hieroor en het 'n week of twee later, na 'n hoogs dramatiese argument in Afrikaans en Hollands, die ring vir hom teruggegee. Net om dit 'n paar dae later te sien pryk aan die vinger van een van my grootste vyande in die netbalspan. Die blikemmer het onheilige motiewe met sy ring gehad!

Van toe af is Valentynsdag nie meer 'n belangrike dag in my lewe nie, alhoewel ek tog elke jaar met heimwee (of liewer jaloesie) kyk na al die mooi goedjies waarmee die winkels versier word. Ek wonder altyd of die dag (of nag) toe die prys van die verskriklike duur bosse blomme werd was!

Met ons hedendaagse tegnologie wonder ek ook of die jongmense regtig nog so lekker vry agter die fietsloods van die skool en of hulle nie nou alles met behulp van die kuberruimte soos SMS-e, Facebook, e-posse, en ek hoor ook E Card, doen nie. Of miskien sit elkeen sommer net alleen op sy bed en "skype" mekaar…

'n Vriend van my wat 'n Valentynsdagbaba is en 'n mylpaalverjaarsdag wil vier maar te platsak is om vir 'n groot party te hoes, se uitnodiging, gekrap op 'n stukkie papier wat onder die kar se windveër ingedruk was, lees so: "Verwaarloosde park gesien met baie mooi bome, nie ver jou af nie. Bring dop, bring piekniekmandjie (met baie kos in), bring jou grootste "smile" en bring jou papegaaibeksnoeiskêr. Ons moet snoei, dis volmaan vanaand!"

Dis mos nou 'n man vir alle seisoene sou ek sê… En 'n prôperse valentyn!

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs