Rosesorg - Mik Vir Die Beste Blomme
By Ludwig Taschner
Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.
Berei jou rose nóú voor vir die mooiste herfsblomme.
Almal sien met groot afwagting uit na herfsrose wanneer die sagter kleure soos die ligte appelkooskleure en pêrelpienke, tot hul reg kom. Die rose geniet die koeler temperature en die blomme hou ook langer. Februarie is die maand om die grondslag vir hierdie blomdrag te lê.
Water
Die hitte in Februarie kan doodmaak en waterverlies deur transpirasie is geweldig. Rose wat uitloop en nuwe knoppe maak, neem baie water op en te min daarvan beïnvloed beslis die gehalte van die drag. Maak rose minstens twee maal per week diep nat, en vermeerder dit tot drie maal per week as dit nie reën nie en temperature voortdurend hoog bly. As jy 'n outomatiese besproeiingstelsel het, stel dit so dat die rose ongeveer 20 liter water per week kry wat daagliks in klein hoeveelhede of elke tweede of derde dag toegedien word. Plaas 'n reënmeter daar en kyk hoe lank dit duur om die 15 mm‑merk te bereik. Hou met gereelde reën in gedagte dat 15mm een diep benatting verteenwoordig. As dit minder as dit reën, beteken dit jy moet steeds jou rose natlei. Oorhoofse besprinkeling of die natspuit van die blare help om die omgewing om die rose af te koel en verlig 'n bietjie van die hittestres. Water vroegaand, koel met warm nagtemperature ook die tuin af en moedig nie swartvlek aan nie omdat die blare vinnig afdroog. Moniteer die rose aan die kant van beddings of teen effense hellings om seker te maak dat hulle genoeg water kry en dat dit nie net afloop nie. 'n Deklaag is absoluut noodsaaklik om nie net die wortels koel en langer klam te hou nie, maar ook om die voordelige grondlewe te beskerm. Enige soort organiese materiaal kan gebruik word – ek het onlangs gesien dennebolle word as 'n baie mooi deklaag gebruik.
Bemesting
Jou rose het ook die versterking van Vigorosa of 'n ander roosmisstof nodig. As dit egter warm en droog is, is dit raadsaam om die misstof eers teen die einde van Februarie toe te dien wanneer die temperature gewoonlik laer is. 'n Mens wil nie nuwe groei aanmoedig wanneer dit baie warm is nie omdat dit die plant aan ekstra stres onderwerp. Strooi die bemesting eweredig om die plant en benat baie goed daarna.
Spuit
Volg my raad vir Januarie en spuit voorkomend vir swartvlek in reënweer en hou dop vir rooispinmyt in warm droë weer. Gebruik Chronos, Rose Protector of Dithane om swartvlek te beheer. Gebruik 'n kleefmiddel soos Spray Stay en meng dit met Ludwig's Insect Spray vir bykomende beheer van plae en poeieragtige meeldou. Beheer ligte besmettings rooispinmyt met Ludwig's Insect Spray of deur die onderkante van die blare af te spuit. Roei swaarder besmettings met Milbeknock uit en spuit binne 'n week daarna met Ludwig's Spider Mite. As jy aan die begin van die seisoen die rose met Koinor deurweek het, is dit nou tyd vir nog 'n toediening.
Versorging
Verwyder alle dooie blomme gereeld, ontknop edelrose as jy goeie gehalte snyblomme wil hê en verwyder die middelste roos by kandelare.
Roos van die maand - 'HOT POINT SPIRE' (BARhop)
Rooi rose word met Valentynsdag verbind en hierdie toringroos word 'n statige 2,5m hoë eksemplaar wat 'n oorvloed donker kersierooi blomme dra wat treffend is aan die agterkant van die bedding of waar hoë kleur nodig is. Die elegante blomme verbleik nie in die son nie en hou goed aan die bos sowel as in die vaas. Die loof is donkergroen en siektebestand. |