To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Elegia capensis (Besemriet)
By Gerald Schofield

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

Elegia is een van vele spesies wat tot die familie Restionaceae behoort. Hierdie groep biesieagtige plante word hoofsaaklik in die Wes- en Oos-Kaap aangetref, hoewel ander in Australië en Viëtnam voorkom. Manlike en vroulike blomme word aan aparte plante gedra, wat dikwels tot verwarring en verkeerde identifikasie binne die familie lei. Van al die baie lede van hierdie baie interessante groep plante is Elegia capensis een van die mooiste en word algemeen plaaslik sowel as oorsee gekweek.

Hulle is polvormende immergroen meerjariges wat bestaan uit baie lang stingels wat twee tot drie meter lank kan word. Elke stingel is 'n ryk groen met kranse veeragtige sekondêre stingels wat by die knope al met die stingel langs uitgroei. Blare is amper afwesig en het ontwikkel in koperbruin skutblare wat aan sommige stingels aangetref word. Fotosintese vind in die stingels eerder as die blare plaas. Klein groen blommetjies verskyn in die laatlente aan die stingelpunte en word in die herfs ryp as koperkleurige saad. Plante in minder gunstige groeitoestande is kleiner.

Die stingels word eeue lank al vir besems gebruik, vandaar die naam besemriet. Die loof word dikwels geoes en in blomrangskikkings gebruik waar dit weke lank hou. Plante word in fynbostuine tussen proteas en erikas gekweek. Hierdie besondere restio pas egter goed by die meeste klimaatstreke aan, buiten die heel koudstes waar swaar ryp in die winter dit laat vrek. Dit het landswyd van hulle gewilde tuinplante gemaak waar hulle dikwels naby dammetjies, strome en waterfokuspunte aangetref word. Hulle aard die beste in swak sandgrond wat die grootste deel van die jaar klam bly. Snoei onnet stamme op die grond af. Dit is soms nodig om die hele pol in die lente af te sny om nuwe gesonde groei aan te moedig. In die natuur verrig brande dikwels hierdie taak. Die polle groei gou weer.

Elegia capensis, 'n goeie tuinplant met 'n grasieuse, kenmerkende vorm en groeiwyse, is ongetwyfeld een van my gunstelingplante van die Kaapse fynbos.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs