To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Laat Die Miere Leef!
by Jenny Dean

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

Pleks van jou mierkolonies dood te maak, gee hulle liewer 'n geskikte habitat en vertroetel hulle ter wille van die voëls en skoenlappers. Kortom, laat die miere (en ander insekte) leef!

Ek moet nog die tuinier ontmoet wat nie van voëls en skoenlappers hou nie, maar tog hoor ek so dikwels die vraag: "Wat kan ek aan my mierprobleem doen?" Ek het agtergekom dat baie ywerige voël- en skoenlappertuiniers gif toedien om miere te dood sonder dat hulle bewus is van die kettingreaksie wat gifstowwe het op juis die natuurlewe wat hulle so in hul tuine geniet. Geoff Nichols, een van my tuinmaakhelde, het my jare gelede vertel dat hy reken te veel miere is die gevolg van 'n wanbalans in die grond en sy oplossing was om oral in die tuin kompos rojaal toe te dien om die organiese materiaal in die grond te vermeerder. Gesonde lewende grond is 'n gebalanseerde omgewing wat gesonde bevolkings bakterieë, mikrobes, erdwurms en selfs miere onderhou.

'n Groot deel van die meeste voëls se diëte bestaan uit miere – 'n feit wat tuiniers dikwels nie besef nie. Trouens, hulle is die stapelvoedsel van een van ons oulikste tuinvoëls, die gewone janfrederik. Die lys van voëls wat miere by voorkeur in hul diëte insluit, is verrassend lank en hier haal ek Charles en Julia Botha, die outeurs van die wonderlike boek Bring Nature Back to your Garden, aan: heuningwysers, bokmakieries, groen kwêvoëls, draaihalse, dikkoppe, kroonkiewiete en suidelike waterfiskale asook verskeie spesies kleinjantjies, katlagters, streepkoppies, vinke, kanaries, bontrokkies, klopkloppies, bossangers, robbins, vleikuikens, lewerikke, visvangers, frette, wipsterte en janfrederikke, suikerbekkies, koesters, langstertjies, troupante, laksmanne, lysters, mese, kwikkies, sangers, wewers, flappe, kakelaars en spegte. Wat 'n wonderlike hulpbron blyk miere nie te wees nie! Daarenteen kan 'n vergiftigde halfdood of dooie mier wat 'n voël oppik baie moontlik die voël ook vergiftig. Elke lewende organisme in die grond word geraak deur die gif wat vir miere neergesit word. Ons gooi kompos om gesonde lewende grond aan te moedig en maak dit dan tot niet deur gifstowwe toe te dien. Ek is ook skuldig aan hierdie dom sienswyse. Op 'n keer het ek 'n klein bietjie gifpoeier gegooi op die kroon van 'n crinumlelie wat met lelieboorder besmet was. Tot my afgryse het 'n menigte piepklein spinnekoppies, almal toe onder die gifpoeier, uitgekom – inderdaad 'n ontnugterende les en die laaste keer dat ek ooit so 'n produk gebruik het. Dit is veel beter om jou oë oop te hou vir hierdie pes se eiers wat aan die onderkante van blare gelê word en dit af te skraap. As jy 'n eier miskyk, is die volgende stadium die piepklein ruspes wat in die blare uitbroei waar hulle maklik te sien is en doodgedruk kan word voor hulle uitkom.

'n Gesonde mierbevolking en ander insekte verskaf 'n verskeidenheid van proteïenryke happies vir 'n groot verskeidenheid van voëls, soos bogenoemde lys aantoon. Ek vra jou mooi om insekte, en ook miere, wat beskou word as 'n ergernis wat uitgeroei moet word, eerder aan te moedig. Dit kan maklik gedoen word deur 'n verskeidenheid van plaaslike bome en struike te plant. Die akasias is van die heel beste om insekte te lok en te ondersteun en daar is een wat vir amper elke plek in die land geskik is. Acacia karroo (Soetdoring) is 'n larvale gasheerplant vir 15 skoenlapperen 90 motspesies – 'n verstommende ryk spens vir voëls. Boaan my lys van die beste voëlbome is Halleria lucida (Notsung), Xylotheca kraussiana (Afrikaanse hondsroos), Kiggelaria Africana (Wildeperske), Searsia chirindensis (Bostaaibos) en Grewia occidentalis (Kruisbessie). En as jy die plek het, klop eenvoudig niks die Ficus-spesies (Wildevye) nie.

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs