Kruie Met Spogblomme
Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.
Kruie is toeka vir sake van die hart gebruik. Of dit gewerk het weet ons nie, maar hier is (hopelik) 'n paar idees om romanse in jou lewe terug te bring (as dit verdwyn het).
As 'n mens aan kruie dink, is dit gewoonlik in kombuisverband. Kruie wat strelend en kalmerend is, asook dié wat vir depressie en hartsake help, raak egter nou ook huishoudelike name.
In antieke tye is kruie in liefdesdranke gemeng, laventel is onder die matras gesit om passie in die huwelik te verseker, jong verliefdes het roosmaryn gedra as teken van hul getrouheid en sitroenkruid het die eer gehad dat dit 'n gebroke hart genees.
Ons is deesdae nie meer so by- of liggelowig nie, veral nie oor liefdesdranke nie, maar 'n mens kan begryp hoe kruie wat 'n behaaglikheidsgevoel bevorder eens as liefdeskruie beskou is.
 |
|
Lavandula angustifolia is die belangrikste romantiese kruid. Dit is die hele pakket – 'n plant wat lekker is om aan te ruik, te proe, te voel en na te kyk. Na bewering bevorder dit passie, eensgesindheid, vriendskap en samewerking met 'n geliefde, waarskynlik omdat die kalmerende effek ook die senustelsel raak. Met laventel kan jy romanties raak – 'n ruikertjie laventel met ontbyt in die bed, 'n laventel-en-kersligbad, hartvormige laventelkoekies of 'n massering met laventelgegeurde olie. Bring romanse die tuin in en plant laventel alkante van 'n paadjie sodat jy daarteen skuur en sy eteriese olies vrystel terwyl jy loop. Die Suid-Afrikaans geteelde Lavandula intermedia 'Margaret Roberts' is die gewildste plaaslike laventel wat die beste presteer. Dit lyk of dit taaier is en langer lewe as die ander laventels, veral as dit op die Hoëveld gekweek word. Die 'Margaret Roberts'-laventel word 'n groot bos wat 1,5m hoog en wyd is en nooit ophou blom nie. Hoewel die blomme self nie spoggerig is nie, maak die massa blomme wat dit dra van hierdie plant 'n apploustrekker. |
| |
|
|
 |
|
Rosmarinus officinalis (Roosmaryn) verteenwoordig liefde en getrouheid en word gewaardeer omdat dit die gees opwek – en die bloedsomloop verbeter – wat dalk verduidelik waarom sommige kulture hierdie kruid as seksstimulant gebruik! 'n Mens moet eenvoudig net vars roosmaryn inasem om te begryp waarom dit die hart oopmaak. Dit is 'n energiegewende kruid vol lewensvreugde. Dit is dan ook nie verrassend dat dit 'n simbool van getrouheid vir minnaars geword het, in bruidsruikers gevleg en aan gaste by troues gegee is nie. Nes laventel het roosmaryn volson en goed dreinerende grond nodig. Daar is die tradisionele 'McConnell's Blue', die regop 'Tuscany Blue', rankroosmaryn, die grondbedekkerroosmaryn 'Irene' asook die regop roosmaryn 'Pink' en 'Heinz White'. Beproef 'n roosmarynskemerkelkie: Plaas 'n takkie roosmaryn in 'n mengfles, maak die fles vol ys en voeg een of twee sopies wodka, 'n sopie suurlemoensap, 'n sopie limoncello (Italiaanse aperitief ) of een verpulpte afgeskilde lemmetjie en 1½ tot 2 desertlepels strooisuiker by. Skud goed tot die suiker opgelos is en syg die mengsel deur in 'n martiniglas. Dit is heerlik en verfrissend.
|
| |
|
|
 |
|
Mentha piperita (Peperment) is 'n kruid wat 'n mens net goed doen. Die eteriese olie is 'n stimulant wat die gees en gemoed verkwik, verstandelike vlugheid verhoog en verstandelike uitputting verlig. Gebruik peperment as verskoning om 'n bietjie dekadensie in jou lewe te bring. Pak dié menttert! Maak 'n onderlaag met 'n pakkie fyngedrukte tennisbeskuitjies wat met 125g gesmelte botter en 1e kakao gemeng is. Druk vas in 'n tertbord en verkoel. Maak 'n pepermentroomvulsel met een koppie versiersuiker, 2e sagte botter, 2e effens geklopte room en 2t pepermentgeursel. Voeg 'n bietjie groen kleursel by die mengsel. Smeer die mengsel oor die onderlaag en laat dit in die yskas styf word. As dit styf is, smelt 'n bietjie donkersjokolade en bedruip dit booor. Hou dit in die yskas. |
| |
|
|
 |
|
Petroselinum crispum (Pietersielie) word nie as 'n romantiese kruid beskou nie, maar verfris wel die asem, veral nadat knoffel geëet is en die hartstog sommer laat verdamp! Dit werk die beste as jy dadelik nadat jy knoffel geëet het 'n takkie pietersielie of twee eet. Dit het 'n lang volksgeskiedenis dat dit die vroulike libido versterk, hoewel moderne navorsing bevind het dat dit vertraagde menstruasie aanwakker en menstruele pyn verlig. Almal baat egter by 'n daaglikse porsie vars pietersielie omdat die blare baie voedsaam en ryk aan vitamiene en minerale is. Pietersielie groei die beste in volson en hou van diep, vrugbare grond wat goed dreineer. Die algemeenste pietersielie is krulblaarpietersielie, maar baie kokke verkies Italiaanse pietersielie met sy plat blare wat beter bestand is teen kook en meer geur het. |
| |
|
|
 |
|
Pimpinella anisum (Anys) is nog 'n asemverfrisser wat met spysvertering help as jy na 'n ryk maaltyd 'n paar saadjies kou. Is dit so dat dit "stirreth up bodily lust" soos sommige skrywers beweer? Ja wel, volgens die Encyclopaedia of Medicinal Plants wat sê dat die vlugtige olie (anetool) 'n waargenome estrogeniese effek het wat die gebruik van die kruid as stimulant van die geslagsdrang staaf. Anys word hoofsaaklik om sy saad gekweek wat gou geproduseer word. Dit is 'n mooi jaarplant met veeragtige blare en kantagtige blomme wat vir die vaas gepluk kan word. Dit groei maklik in enige grond en hou van volson en gereelde benatting. |
| |
|
|
 |
|
Melissa officinalis (Sitroenkruid) is 'n genesende kruid omdat daar waar daar liefde is, helaas, ook die moontlikheid van 'n gebroke hart bestaan. 'n Aftreksel of tee wat van sitroenkruid gemaak word, help om angs, ligte depressie en rusteloosheid te verminder. Dit is 'n laaggroeiende meerjarige wat van klam, vrugbare grond hou en in ligte skadu kan groei. Die blare lok bye en het 'n heerlike suurlemoengeur. |
|