| Plant Pienk
Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.
Pienk kiesieblaar, sandroos of harige malva groei vinnig, gebruik min water en lok die skoenlappers en bye.
Anisodonteas is endemies in Suid- Afrika en vorm 'n groepie van 21 spesies van pienk-, mauve-, purperrooi- of witblommige spreidende struikies en regop struike wat tot die hibiskus- en stokroosfamilie Malvaceae behoort. Die familie sluit ook in belangrike landbouveselgewasse soos katoen en jute. Hulle dra simmetriese blomme en hul nogal leeragtige, harige blare het getande rande, vanwaar die generiese naam Anisodontea wat afgelei is van die Grieks aniso (ongelyk) en odon ('n tand), en is tipies verdeel in drie of vyf ongelyk lobbe. Spoggerige, blomryke Anisodonteas is geskik vir klein sowel as groot tuine en hou van volson en goed gedreineerde alkaliese of suurgrond wat baie kompos bevat. Die plante groei vinnig, is verbasend waterslim as hulle eers gevestig is en moet net af en toe deurweek word. Gereelde snoei na die blomtyd voorkom 'n langbenige voorkoms, moedig bosagtige nuwe groei aan en verleng die lewe van die plante. Anisodonteas plant maklik voort van saad wat in die herfs of lente gesaai word en van puntsteggies wat in die vroeë somer gemaak word sodra die nuwe groei genoeg afgehard het. Nie baie plae en siektes val die plante aan nie. Die blomme lok voordelige insekte, waaronder melkbosvlinders, heuningbye en houtkapperbye, na die tuin toe.
Anisodontea anomala
Hierdie treffende en ongewone houterige struikie word tot 2m hoog en sprei 1m. Dit kom natuurlik voor in kolonies op sandvlaktes en klipperige heuwelhange vanaf Sentraal-Namakwaland tot by Hopefield op die Kaapse Weskus. Die stewige enkelstam word wit met ouderdom, vorm takke halfpad teen die stam op en dra groot geronde, handvormige, leeragtige blare aan lang spreidende stele. Trosse groot pienk tot helderpurperrooi blomme word aan die takpunte gedra en die blaaroksels is gemerk met opvallende dieppurperrooi strepe. A. anomala is wind- en droogtebestand en goed geskik vir kustuine. Dit moet volson kry en aard goed in diep sandgrond, maar pas maklik aan by swaar granietgrond. In die winter is dit net af en toe nodig om dit te deurweek. Dit is belangrik om die takke na blom met ongeveer die helfte terug te snoei om geil nuwe groei aan te moedig. Word dit nie gedoen nie, verloor die plante hul onderste blare en raak langbenig. Hierdie spesie is rypgevoelig. Dit word voortgeplant deur saad in die herfs te saai of puntsteggies in die vroegsomer te maak.
Anisodontea julii (Bergroos)
Hierdie uitmuntende tuinplant kom endemies voor op die rotsagtige berghange van die Drakensberge in die oostelike somerreënstreek van Suid-Afrika by hoogtes van tussen 1200m en 2300m. Dit is 'n vinniggroeiende, regop struikie van 2m met min takke en dra twee tot drie pragtige pienk of pers blomme aan lang stele in die oksels van groot, diepgelobde grysgroen esdoringagtige blare. Die nuwe blaargroei is bedek met kort fluwelige hare en die stamme is onderlangs digbehaard. In die natuur blom dit van Februarie tot Maart, maar aangeplant het dit 'n veel langer blomseisoen wat vroeg in Oktober begin en in Januarie en Februarie die hoogtepunt bereik. Tuinplante het 'n mooier vorm as dié in die natuur. Dit is 'n uitstekende keuse as agtergrondplant in 'n kruidagtige randakker, as informele heiningof vinniggroeiende skermplant vir nuwe tuine. Dit aard die beste in volson, maar verdra namiddagskadu. Dit pas by die meeste grondtipes aan en vaar besonder goed in goed gedreineerde granietagtige suurgrond. Hoewel dit inheems in die somerreënstreek is, vaar dit besonder goed in die winterreënstreek en is dit in die somer net af en toe nodig om dit nat te lei. Dit is bestand teen middelmatige ryp. As die bos nie teruggesnoei word nie, raak dit na 'n jaar of twee yl. Geil nuwe groei word egter aangemoedig deur die takke in die vroeë herfs met ongeveer 'n derde terug te snoei. Dit word voortgeplant deur saad in die lente te saai en steggies in die vroegsomer te maak.
Anisodontea scabrosa (Sandroos)
Die sandroos het 'n baie wye verspreiding, veral kuslangs, van Saldanha aan die Kaapse Weskus tot die Kaapse Skiereiland en oos tot in die suide van KwaZulu-Natal, en die binneland in tot in die westelike Karoo. Dit vorm 'n digte, spreidende grondbedekker of struikie van 0,3 tot 1,8m hoog en tot 2m wyd en dra een tot verskeie ligte tot donkerpienk blomme aan skraal stele wat in die blaaroksels gevorm word. Die drielobbige blare is bo skurf en bedek met kort, taai haartjies en is geurig wanneer dit gekneus word. Die blomtyd duur van vroeg in Augustus tot die middel van Desember, maar blomme kan heeljaar van tyd tot tyd verskyn. In die natuur groei dit op sandvlaktes, maar pas maklik aan by bewerkte swaar granietgrond. Dit is 'n uitstekende waterslim plant vir winderige seekustuine in volson, is nuttig as grondbedekker om steil banke te stabiliseer, vir verkeerseilande en aanplantings by kantoorblokke, as klein struikie vir groot rotstuine of in die middel van wye kruidagtige randakkers. Sy digte immergroen loof leen hom tot snoei en die spesie kan vir siersnoei gebruik word. Sekere regop vorms van hierdie spesie is die ideale kandidate om as hoofstamplante vir diep houers opgelei te word. Kusvorms is rypgevoelig, maar dié uit binnelandse gebiede is rypgehard. Dit word voortgeplant deur saad in die herfs te saai of steggies in die vroegsomer te maak. |