| Tuininspirasie - Rehoboth
Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.
Formele elemente skep 'n gevoel van ruimte in hierdie juweel van 'n klein tuin.
Die muur verbloem die pragtuin met die mooi naam Rehoboth, in Franschhoek. Maak egter die hek oop en jou hart bokspring: 'n Mens stap in 'n groen toevlugsoord in wat die siel verkwik met sy koel kleurpalet, volop water en elegante strukturele simmetrie. Dit is merkwaardig hoe ruim hierdie tuin voel al is dit so klein. Die geluid van saggies murmelende fonteinwater in 'n elegante ronde dammetjie trek eerste die aandag, en dan sien jy dat die vorm herhaal word in drie siersnoeisirkels van verskillende groottes wat daarnaby geplant is. Verby die fontein en perfek geplaas op 'n sterk visuele as staan 'n houtbank wat deur twee konifere omraam word. Geknipte heinings in verskillende lae en 'n knooptuin versier die buitelyn van hierdie eerste indruk. 'n Mens voel intuïtief aan dat niks hier aan die toeval oorgelaat word nie; elke ontwerpelement bevorder die harmonie van die tuin in sy geheel.
"Ek wou 'n formele tuin met 'n Frans-Provensaalse atmosfeer hê," sê die eienaar Trish Blyth terwyl sy haar en haar man, Joe, se opdrag aan die oorlede Anne Sutton, die landskapargitek, verduidelik. Anne het die planne vir die tuin ontwerp en die strukturele vertrekpunt verskaf wat onder Trish se kunstenaarsoog ontwikkel het. Die tuin is maar in sy vierde jaar en dit is fassinerend om te sien hoe dit reeds verander het. Waar die grasperk tevore 'n digte stand iceberg-rose afgerond het, groei nou 'n indrukwekkende knooptuin wat gemaak is van laaggeknipte Buxus sempervirens (Buksbome) met Nepeta x faassenii '6 Hills Giant' (Kattekruid) tussenin geplant. Soos alle tuine is hierdie een aan die ontwikkel.
'n Woonkamer buite
"Trish se gawe is haar skerp kleursin," sê Joe. Sy het baie sensitief 'n aardse palet van klip, olyf en houtskool met 'n tikkie sementgrys vir die huis en harde landskappering gekies. Joe is 'n hooggeagte boukontrakteur en hulle het amper vyf jaar gelede hul elegante huis in die Kaapse styl ontwerp en gebou. 'n Diep L-vormige veranda omraam die tuin. Dit is met 'n ruim etenstafel en stoele gemeubileer en dra daartoe by dat hulle ewe maklik binne as buite lewe. Sjampanjekleurige gruispaadjies met trapklippe tussen die gruis boots die lyn van die veranda na en omraam op sy beurt 'n uitnodigende swembad. Trish staan daarop dat al haar tuinpaadjies wyd genoeg moet wees vir twee mense om langs mekaar te stap en dit help ook om 'n gevoel van ruimte te skep. Die houtskoolkleurige oefenswembad met sy sprankelende water wat die natuurlike grysblou tinte van die lug en omliggende berge weergee, is 'n baie sterk fokuspunt. Dit is op 'n visuele hoofas geplaas wat van 'n paar dubbele glasdeure in die woonkamer deur die middelpunt van die lang swembad na die ronde dammetjie met sy fontein op die punt toe loop. Verder hang 'n veraf bergspits op die as en vorm 'n geleende uitsig wat die tuin tot ver buite sy grensmuur uitbrei. Hierdie as sny die eerste as wat van die ingangshekkie af sigbaar is reghoekig maar uitmiddelpuntig. Saam vorm hulle 'n inherente asimmetriese strukturele raamwerk vir die tuin wat andersins baie duidelik simmetries is. Die spanning tussen hierdie elemente skep dinamiek.
Strukturele aanplantings
Soos die meeste formele tuine is dié tuin 'n "argitektoniese" tuin sonder toegewings aan die fantasie dat 'n tuin op 'n manier die natuur kan "herskep" – wat onderliggend is aan informele kothuis- sowel as landskapstyle. Die aanplantings is baie struktureel en hoofsaaklik loof en bestaan amper uitsluitlik uit heinings, kunssnoei en 'n knooptuin. Daar is ook 'n ry suurlemoenbome al met die grensmuur af. Hierdie tuin is waarlik 'n buitenshuise woonkamer wat volkome met die huis verbind is met die veranda wat as oorgangsone dien.
Trish se keuse van plantmateriaal is doelbewus beperk en weerspieël haar verlange om die aardse kleurtinte van die huis en die omliggende berge vas te vang. 'n Vierkantig geknipte heining van grys Westringia fruticosa loop ewewydig met 'n ry laventels van 'n soortgelyke kleur wat in herhaalde halfsirkels geknip is. Hierdie kleur word dan herhaal in die blougrys Teucrium fruticans wat in 'n losserige, pluiserige balvorm gesnoei is wat dit toelaat om sy lila blomme te vertoon. Die gryse en lilas word herhaal in die kattekruid wat as vullerplant in die knooptuin gebruik word. Uiting word gegee aan lewendiger skakerings van groen in die vierkantige heinings van die knooptuin, en weer sterker in die Viburnum odoratissimum-heining wat 'n aanliggende grensmuur naboots. Die wit van die iceberg-rose verlewendig hierdie gedempte kleurpalet. Trish het ook noulettend aandag geskenk aan kontrasterende teksture wat die duidelikste in werking is tussen die fyngestippelde "krytagtige" kwaliteite van die geknipte westringia en laventel en die gepoleerde groene van die viburnum en buksboom. Hierdie kontras word ook versterk deur die gelaagdheid van die heinings met die lae buksboom van die knooptuin wat met die hoër westringia-heining en dan met die nog hoër viburnum-heining kontrasteer. Hierdie wisselende heiningvlakke skep verskillende plat vlakke wat help om die ruimte te verdeel en, paradoksaal, groter te laat lyk. Dieselfde resultaat word gewoonlik in klein tuintjies verkry deur 'n tuin in vlak terrasse te verdeel, hoewel dit nie hier gebruik is nie.
Die Bybelse naam "Rehoboth" is vreemd gepas hier of dit nou die bedoeling was of nie. Dit beteken "ruimte" of "plek" in Hebreeus en vang die verrassende gevoel van ruimte vas wat 'n mens in hierdie tuintjie kry. Dit bewys weer dat klein tuintjies goed geskik is vir formele ontwerpe. Omdat dit eenvoudig is, probeer dit nie om die prag van die bergagtergrond te oortref nie, maar – omdat die struktuurelemente so sterk is – keer dit ook dat die agtergrond dit oorweldig. Trish vertel sy het as 'n vorm van terapie begin tuinmaak terwyl sy alleen drie klein kindertjies grootgemaak het. By Rehoboth het sy 'n tuin geskep wat sy eie terapeutiese krag verskaf!
Tuinnotas
Rehoboth is in Franschhoek in die Wes-Kaap geleë en is 'n tuin van ongeveer 500m2 groot met 'n noordaansig. Trish en Joe Blyth het vier jaar gelede daarmee begin en moes leemgrond as bogrond invoer aangesien die tuin ingesny is in 'n helling wat van nature klipperige grond gehad het. Hierdie streek van die Wes-Kaap kry winterreën en het warm, droë somers.
'n Sierlike en oorvloedige kombuistuin
Kombuisplante kan net so mooi as sierplante wees. Trish het haar formele styl baie suksesvol uitgebrei na die kombuistuine wat sy in die redelike smal gangetjies langs en agter haar huis gemaak het. Lae vierkantige heinings van Searsia crenata grens aan die beddings wat in die middel verdeel is met toegangspaadjies wat sterk asse in ooreenstemming met die gangetjies naboots. Waterfokuspunte verskaf fokuspunte aan die einde van hierdie paadjies. 'n Iceberg-stamroos onderbreek elke bedding en die groente en kruie word allereers volgens plantmetgeselbeginsels en dan met oorweging van kleur- en tekstuurkontraste in herhaalde blokpatrone geplant. Ondanks die sierkrag van hierdie tuine geniet Trish en Joe oorvloedige oeste en hoef nooit tamaties, eiervrugte of spinasie te koop wanneer dié groente na die seisoen is nie. Hulle gebruik net organiese plaagbeheermetodes en gaan skemeraand, gewapen met flitse, gereeld op sendings om slakke te jag, die vernielsugtige peste uit te snuffel en hul doppies te klink.
Trish se wenke vir suurlemoenbome
Afgesien daarvan dat hulle 'n waardevolle voedselbron is, is suurlemoenbome baie sierlik, veral in formele Mediterreens geïnspireerde tuine. Beproef hierdie wenke van Trish om hulle op hul beste te laat lyk:
- Gee diep water een maal per week in die somer.
- Deurweek die wortels twee maal per jaar met 250g Engelse sout wat in 10 liter water opgelos is as teenmaatreël teen geelwordende blare wat dikwels 'n teken van 'n magnesiumtekort is.
- Gebruik Bioneem, 'n organiese plaagdoder, om besmettings van sagtelyfinsekte soos witvlieg te bestry.
- Gooi 'n halwe sak hoendermis as deklaag om elke boom om groei in die lente te bevorder.
Plaaslike alternatiewe vir kunssnoei en formele heinings
Waarom nie by die maak van formele heinings of siersnoeikuns eksperimenteer met 'n paar geharde inheemse alternatiewe in plaas van om die klassieke Europese keuses van buksbome, laventel of taksis te gebruik nie. 'n Voordeel van plaaslike plante is dat baie van hulle meer waterslim as tradisionele plante is en ook beter bestand is teen ons warm weerstoestande. Die vanselfsprekendste plante om te oorweeg is Salvia africana-lutea (strandsalie), wat silwergrys loof het en goed vaar in warm kustuine, Carissa macrocarpa (grootnoemnoem), wat ook vir kustuine goed geskik is, maar stadiger groei en nie so fyn geknip kan word nie, en Searsia crenata (duinekraaibessie), wat veelsydig is hoewel dit van goed dreinerende grond hou. Dit kan tot 'n baie fyn tekstuur geknip word. |