To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Deftige Bome Vir Klein Tuine

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

'n Topkeuse van sewe inheemse buksiebome.

Selfs in die kleinste tuin behoort daar plek te wees vir ten minste een boom om die broodnodige dimensie van hoogte te verskaf. Maar pasop: As jy verkeerd kies kan die boom jou werf insluk en jou dalk later in 'n boomhuis laat bly!

Voor dit kom by bome koop vir 'n klein tuin, behoort daar dus eers besin te word oor die plant se volwasse grootte en sy wortelsisteem. Wanneer bome in klein tuine geplant word, is dit gewoonlik redelik na-aan boustrukture en die laaste ding wat enige tuinier wil doen, is om 'n boom later te moet afkap omdat dit skade aanrig aan fondasies. Nog 'n faktor is 'n mooi groeiwyse of vorm – nogal belangrik in 'n buksietuin waarin 'n mens nie baie plante kan gebruik nie. Bome met slanke groeiwyses en ligte blaarkrone is 'n beter opsie omdat hulle nie die beskikbare spasie heeltemal sal oordonder nie. Ten laaste wil 'n mens darem ook bome kies wat voël- en insekvriendelik is om al die plesier van natuurlewe eerstehands te ervaar.

Searsia pendulina (Witkaree)

Die voorkoms is wilgeragtig met 'n netjiese kroon wat sagte skadu gooi. Die blare is saamgestel uit drie individuele smal blaartjies en is liggroen. Die bas is liggrys en word growwer en peul af in stukkies soos die boom verouder. Blomtrosse is saamgestel uit klein geelgroen blommetjies en word gevolg deur eetbare bessies – smulgoed vir voëls.

Klimaat: Die boom groei omtrent oral en is hitte-, koue-, wind-, en rypbestand.

Mooi karaktertrek: 'n Baie geharde, maar mooi skaduboom wat vinnig en sonder nukke groei.

Boomnotas:

  • Grootte kan wissel maar die norm is ongeveer 7m x 7m
  • Penwortelstelsel wat nie aggressief is nie
  • Baie droogtebestand


Dovyalis caffra (Keiappel)

Die ovaal blare is glansend en voel leeragtig – gewoonlik 'n goeie aanduiding van 'n geharde plant. Lang, skerp dorings skuil tussen die blare en sal 'n skelm twee keer laat dink voor hy oor jou grensmuur klim as die stewige keiappel in die nabyheid is. Die bome is eenslagtig en met meer as een in jou tuin of in die omgewing van verskillende geslagte, sal jy die heldergeel vrugte wat in Februarie kom, geniet.

Klimaat: Keiappels groei oral; in winderige tuine; op droë plekke; in die subtrope en in koue rypgeteisterde gebiede. Dis wys om jong bome op sulke plekke vir die eerste paar jaar met rypdoek te beskerm.

Mooi karaktertrek: Dis 'n oulike boom waarvan die klein blomme in November niks is om oor huis toe te skryf nie, maar hy gee hemelse vrugte in Februarie. Dis mooi, ryk aan vitamien C en 'n mens kan heerlike konfyt daarvan kook.

Boomnotas:

  • Grootte ongeveer 4m x 3m met 'n vriendelike wortelsisteem
  • Goeie sekuriteitsplant – plant sommer 'n ry van hulle
  • Lok baie voëls


Bolusanthus speciosus (Vanwykshout)

Elegant en slank met 'n mooi silhoët in die landskap. Bladwisselende, meerstammige boom met dik sytakke en glansende, neerhangende blare. Die bas is diep gegroef en die hoofstam het uitstaande karakter wanneer die boom volwassenheid bereik.

Klimaat: Rypbestand as ouer bome, maar jong plante moet vir 'n paar jaar met rypdoek beskerm word.

Mooi Karaktertrek: Groot trosse pers blomme in die lente en vroegsomer wat herinner aan dié van 'n wisteria.

Boomnotas:

  • Grootte ongeveer 7m x 6m en penwortelstelsel
  • Stadige groeier. Grond wat goed dreineer, gereelde water en bemesting kan die groeitempo verhaas


Heteropyxis natalensis (Laventelboom)

Netjiese blaarkroon met neerhangende glansende donkergroen blare wat eers geel en later roesrooi verkleur in die herfs voor hulle val. Die boom is bladwisselend maar behou van sy blare in subtropiese dele. Die blare en takkies het 'n subtiele laventelgeur as hulle gekneus word en geurige room blommetjies verskyn in die laatsomer tot herfs.

Klimaat: Rypsensitief, maar baie aanpasbaar in gematigde dele. Beskut jong bome aanvanklik in die winter.

Mooi karaktertrek: Die bas van die laventelboom is beskuitkleurig met room tot taan uitgroeiseltjies. Dit peul gedurig af en mettertyd word die stamme knoetserig en krom.

Boomnotas:

  • Grootte ongeveer 5m x 6m. Die wortelstelsel kan 'n impak hê op boustrukture as die boom té naby aan hulle geplant word
  • Stadige groeier


Dais cotinifolia (Kannabas)

'n Slanke boom en perfek vir 'n klein meenthuistuin. Geronde kroon met blougroen blare en mooi grysbruin bas. Immergroen of bladwisselend na gelang van die klimaat. Mooi as eksemplaar maar ook goed in die agtergrond van beddings.

Klimaat: Groei in gematigde dele in die somer- en winterreënvalstreke en verdra redelike ryp en koue. Beskut teen wind in kustuine.

Mooi karaktertrek: Massas ligte perspienk blomhofies oortrek die boompie vir twee tot drie weke in die somer.

Boomnotas:

  • Grootte ongeveer 6m x 5m met 'n nieindringende wortelstelsel
  • Vinnige groeier en baie droogtebestand as volwasse boom


Dombeya rotundifolia (Drolpeer)

'n Juweel in enige tuin en 'n vinnige groeier. Wanneer die boom nog sonder sy groot blare met hulle growwe tekstuur in die laatwinter of lente oortrek staan met wit of babapienk bloeisels, is dit 'n lieflike gesig om te aanskou! Later trek die knoetserige stamme met hulle amperswart bas weer al die aandag.

Klimaat: Groei in die winterreënstreek tot aan die kus, in die droë binneland, in subtropiese tuine en in die gematigde dele van die Hoëveld – eintlike oral mits dit goed versorg word en op 'n jong stadium teen swaar ryp beskut word.

Mooi karaktertrek: Die belofte van lente wat kom as die liggeurige, massa bloeisels verskyn wanneer die weer nog ysig is. Goeie skaduboom vir die somer.

Boomnotas:

  • Grootte ongeveer 6m x 4m en 'n penwortelstelsel
  • Gehard, droogtebestand en 'n vinnige groeier


A. dimidiata (Witpeer)

'n Immergroen boom wat maklik gesnoei kan word om 'n digter en slanke vorm te behou. Die blare is glansend en heldergroen met 'n dowwe bleekgroen onderkant. Die bas is glad and ligtegrys en 'n massa geurige wit blommetjies verskyn vanaf September tot April. Al word die boom oortrek met trosse swart bessies met bloedrooi uitgroeisels – waarvoor die voëls baie lief is – is dit nie 'n morsige boom nie en kan dus redelik naby aan 'n swembad of ander beboude areas geplant word.

Klimaat: Goed vir gematigde dele alhoewel dit ook ligte ryp, wind en koue, en nat winters verduur.

Mooi karaktertrek: Netjiese glansende voorkoms. Die delikate blomstringe is 'n bonus.

Boomnotas:

  • Bronne verskil oor die grootte maar 5m x 4m buite hulle natuurlike woudhabitat blyk die norm te wees. Die wortelstelsel is nie indringerig nie - dus 'n veilige keuse.
  • Stadige groeier, maar die groeitempo kan aangejaag word as dit gereeld water en misstof ontvang.


Herkou hieraan

Kies 'n kwekeryeksemplaar met 'n sterk, reguit hoofstam, al is daar baie sygroei. Berei 'n groot plantgat voor (50cm x 50cm x 50cm). Gebruik ten minste een sak kompos in die bogrond en in die plantgat en voeg 'n groot handvol beenmeel by. Stut jong bome deeglik. Maak 'n gronddammetjie om elke boom en verskaf 'n deklaag van kompos (wat gereeld hernu moet word by jong bome) om die wortelstelsel. Lei een maal per week diep nat.

Buig die boompie

Soos die boom groei, kan jy hom vorm om eendag 'n mooi hoofstam en 'n hoë kroon te vorm. Verdeel die plant denkbeeldig in drie dele en maak só: Verwyder al die sytakkies op die onderste derde van die hoofstam. Snoei die sygroei van die middelste derde terug na een of twee ogies – dit moedig baie nuwe groei aan wat later 'n digte takraamwerk tot gevolg sal hê en die plant help om 'n sterk wortelsisteem en 'n dik hoofstam te ontwikkel. Los vir eers die boonste derde om hoogte te bereik. As jy aanhou om groeiende jong bome só te snoei, sal jy eendag kan spog met 'n pragtige fokusboom in jou tuin.

Bron: Skeppende Tuinmaak met Inheemse Plante deur Pitta Joffe, Briza, 2003.

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs