To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Bonsai - Kry Die Shibui-voorkoms

Verskyn in die Desember 2011 uitgawe van Die Tuinier.

Aangehelpte ontblaring op die regte tydstip help om die omtrek van die stam en takke van jou bonsai te vergroot en die voorkoms van antieke eenvoud te versnel.

Ek skryf hierdie nou in die middel van die lente. Die meeste van my plante lyk pragtig met vars blare wat die lentesonskyn en reën indrink. Teen die tyd dat jy hier lees, sal daardie einste blare al droog, hard en afgeleef wees vanweë die midsomerson en ‑wind. Blare het 'n beperkte lewensduur wat by bladwisselende bome gewoonlik net 'n paar maande is. Die meeste bome begin die een of ander tyd in die midsomer hul ou blare verloor en vervang hulle met 'n nuwe drag spruite. As die plante genoeg sonlig kry – soveel moontlik sonder om te brand – sal die nuwe blare kleiner as die oueres wees, maar meer. Dit is omdat die boom met kleiner blare minder water deur transpirasie verloor, maar steeds die nodige sonlig kry omdat daar meer blare is. Dit is die grondslag van blaargrootteverkleining en is een van die fondamente van bonsai.

Verbeter loof

Die midsomertydperk bied 'n wonderlike geleentheid vir bonsaikwekers om die loof van hul bome beduidend te verbeter. Dit is egter belangrik om die regte tydstip te kies. Wag tot die boom self tekens toon van 'n paar blare verloor en die eerste nuwe spruite verskyn. Help dan die boom deur die meeste van die oorblywende ou blare te verwyder. Binne 'n paar weke sal die boom reageer deur 'n hele klomp nuwe lote te maak en hierdie skielike groeistuwing help om die omtrek van die stam en takke te vergroot. Moenie al die blare verwyder nie. 'n Paar moet oorbly om die prosesse aan die gang te hou. Verwyder hulle later as die nuwe blare verder ontwikkel is. 'n Spesiale stuk gereedskap, genaamd 'n ontblaarskêr, word dikwels gebruik om ouer blare te verwyder. 'n Mens kan egter gewoonlik blare verwyder deur net effens daaraan te trek. Vars, gesonde blare kan nie so maklik verwyder word nie omdat gesonde, sterkgroeiende blare hormone genaamd ouksiene produseer. Ouksiene beheer die groeiwyses van plante, en een van hul eienskappe is om plante te help om na lig toe te groei. Ouer blare hou op om ouksiene te produseer en die gebrek daaraan onderin die blaarsteel dui vir die boom aan dat die blaar oud is en vervang moet word.

Die regte tyd is noodsaaklik

Onder ideale omstandighede sal al die ou blare op hul eie afval. Ons kweek egter ons bome in toestande wat beter as ideaal is, gee hulle meer as genoeg water en baie kos, en gevolglik bly die ouer blare langer aan die boom as wat hulle moet. Dit is sleg vir die boom omdat die ou blare aanhou om voedingstowwe te gebruik om hulle aan die gang te hou, selfs al lewer hulle nie meer 'n positiewe bydrae tot die plant se gesondheid nie. Tydsbepaling is dus belangrik. Elke boom kies sy eie tyd om te vernuwe, dus moet die kweker altyd oplettend wees en dophou vir tekens van leeragtige blare. Dit is ook noodsaaklik dat jy net gesonde bome ontblaar. Gelukkig duur die ontblaringsvenster ongeveer 'n maand en jou boom ontblaar heelsomer natuurlikerwys. Sou jy jou boomstam in die dwarste deursny, sal jy 'n wyer dowwer ring in die konsentriese ringe van die stam sien. Die skielike verwydering van amper al die blare en die gevolglike groeistuwing het dié wyer ring tot gevolg. Tydperke van stadiger groei in die winter laat 'n smal donkerder ring. Die ontblaringsproses voeg in werklikheid 'n ekstra jaar by die oënskynlike ouderdom van die boom en dit lyk dus 'n jaar ouer. As dit gereeld elke somer gedoen word, sal jou bome vinnig daardie voorkoms van antieke eenvoud kry waarna ons by ons bonsai streef – die voorkoms wat die Japannese Shibui noem.

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs