To visit The Gardener Magazine website, click here
 


Content on this page requires a newer version of Adobe Flash Player.

Get Adobe Flash player

     
 
Gemaak Vir Hitte

Verskyn in die Februarie 2012 uitgawe van Die Tuinier.

Daar is baie taai, waterbesparende plante wat heeldag in die son wil braai en graag in houers groei.

Die somer kan amok saai met houerplante en om elke jaar die sawwe Sannies wat nie die hitte kan hanteer nie, te vervang, is onproduktief en duur. Om jou te wys hoeveel pret dit is om in potte tuin te maak, het ons 'n paar geharde kalante uitgekies wat maklik groei en ons warm somers terdeë geniet. Almal is mooi van aansien, meeste blom aanskoulik gedurende verskillende tye van die jaar, floreer met die minste sorg en word nie deur peste en plae aangeval nie.

 

Bougainvilleas

Alhoewel bougainvilleas hoofsaaklik gebruik word as ondeurdringbare heiningplante of mooi rankers vir pergolas, is daar heelwat variëteite wat spreidend en kompak groei wat ontploffings van kleur in groot potte verskaf. Hierdie plante dring aan op volson.

Bougainvillea 'Tropical Rainbow' met sy bont blare in room en wit was 'n goeie keuse vir 'n klassieke urn. Nuwe loofgroei is altyd rooipienk en die blomme se skutblare is waatlemoenrooi.

Goed om te weet

  • Gee bougainvilleas in houers gereeld water in die somer, maar net as die potgrond goed uitgedroog het. Te veel water moedig net blare aan en nie blomme nie.
  • Voed gereeld met 'n vloeibare misstof in die somer.
  • Snoei soms vir netheid.
  • Goed vir subtropiese en gematigde dele. Sensitief vir koue en ryp.
     
 

Echeverias

Echeverias is baie gewilde houer- en tuinplante vanwee hulle mooi voorkoms en looftekstuur, lae waterbehoeftes en die min sorg wat hulle vra. Daar is 'n magdom hibriede beskikbaar en as die versamelgogga jou eers gebyt het, gaan jy almal wil hê. Echeverias groei ook ewe gaaf in ligte skadu. Plante in klein potte moet wel gereeld water kry.

Echeveria agavoides

'n Enkele stamlose roset kan redelik groot word (ongeveer 30cm hoog) voor 'n klomp kleintjies aan die basis van die plant verskyn wat later in die vorm van 'n digte en puntige klomp groei. Die blare is glad en skerp gepunt. Die heldergroen kleur word afgerond met bloedrooi rande. Hierdie spesie kan oor die algemeen meer koue en droogte verduur as die meeste ander echeverias.

Goed om te weet

  • E. agavoides kan maklik vermeerder word met blaarsteggies of verdeling.
  • Soms is slakke en plantluise lastig by ander echeverias, maar ek vind dat my E. agavoides sonder probleme groei. Ek was hulle slegs nou en dan af met 'n sterk stroom water om hulle skoon te hou.
     
 

Aloe 'Hedgehog'

Die nuttigste ding van die dwergie Aloe 'Hedgehog' wat slegs sowat 40cm hoog groei, is dat dit goed lyk in enige grootte houer. 'Hedgehog' is 'n hibried van inheemse aalwynspesies en geteel deur 'n plaaslike kweker. Die grysgroen smal blare is doringrig en gerangskik in 'n stywe roset wat lyk soos 'n stekelrige bal. Dit groei vinnig en vorm baie klein plantjies aan die moederplant se basis wat saam 'n digte pol vorm. Tydens die herfs en winter verskyn daar baie blomstele met nektarryke koraal buisblomme.

Goed om te weet

  • Siektebestand.
  • Geskik vir alle klimate behalwe waar strawwe winterryp voorkom, waar potte liefs beskerm moet word met rypdoek.
     
 

Cotyledon orbiculata (Pig's ear)

Daar is 'n geweldige variasie in loofkleur onder die nuttige Cotyledon orbiculata. Tussen al die vorms en variëteite sal jy plante vind wat welige smaraggroen blare het, of sagtegroen tot grys en gewoonlik ook met 'n rooi lyn om die rande. Almal se blare is groot en sappig. Daar is ook 'n vorm met poeierwit blare en baie bleek lemmetjiegroen rande wat 'n uiters begeerlike plant is as grondbedekker of vir houers. Die groeiwyse is so struktureel en aantreklik dat 'n mens eintlik nie eers enige blomme verwag nie. Maar trosse klokkieblomme verskyn wel in die winter en by sommige soorte ook in die somer en weer eens is daar groot kleurvariasie - van geel, oranje, pienkerig tot rooi.

Pasop vir die ryp!

Cotyledons groei oral maar strawwe ryp en koue kan die plante beskadig. Beskerm jou potte met rypdoek in die winter.

     
 

Agave

Agaves wat hoofsaaklik van Mexico en die tropiese dele van Amerika kom is 'n diverse genus wanneer 'n mens dink aan vorm en loofkleur en tekstuur. 'n Gemeenskaplike karaktertrek van hierdie taai plante is hulle rosette met swaar vlesige blare. Plante soos A. attenuata and A. geminiflora is gewilde aksentplante en word meer en meer in houers geplant, maar daar is ander begeerlikes ook.

Agave parryi var. parryi

Die pragtige sukkulent is ideaal vir 'n tuinier met Job se geduld (stadige groeier!) of vir die versamelaar wat hou van houertuine vol interessante plante. Dis 'n lieflike dwerg-agave met grysgroen tot staalblou vlesige blare met besonderse skerp swart blaarpunte in die vorm van dorings. Saam vorm die blare 'n ronde vettige roset. Lae waterbehoeftes en taamlike gehard. Agave parryi var. parryi is soms skaars in die handel, maar beslis die moeite werd om na te soek.

     
 

Sedums

Sedums kan wissel van eenjariges, kruipende kruie en grondbedekkers tot struike. Dis 'n baie groot genus met een belangrike faktor in gemeen – 'n kapasiteit om water te stoor in hulle blare en 'n liefde vir warm plekke. Meeste van die sedums is topklas houerplante.

S. nussbaumerianum

S. nussbaumerianum is 'n eksotiese spesie van Mexico met ongewone geelkoperkleurige rosette aan slanke spreidende stele. Dis 'n mooi plant op sy eie of gemeng saam met ander sonliewers in 'n pot. Klein stervormige wit blommetjies met 'n sagte geur verskyn in die laatwinter en lente. Die plant word maklik gekweek van blaar- of stamsteggies en is mooi in sonnige rotstuine ook.

Goed om te weet

  • As jy op soek is na 'n taai plant vir hangmandjies, gebruik hierdie sedum.
  • Groei in volson of ligte skadu.

Perfek vertoon

Om sommer enige ou pot toe te plant en êrens staan te maak, gaan nou nie juis 'n aandagtrekkende verskil aan jou tuin, patio of balkon maak nie. Mooi houers met net een aksentplant of 'n kombinasie van komplementerende plante is belangrike fokuspunte wat met sorg uitgestal moet word:

  • Groepeer meer as een pot van dieselfde ontwerp saam. (Terwyl ek nog besluit wat om te plant, los ek my potte leeg vir 'n paar dae op my gekose uitstalplek om te sien of hulle reg geplaas is en wel die oog vang – 'n beplante houer kan deksels swaar en moeilik wees om agterna te skuif!)
  • Potte in pare of 'n ry potte waarin dieselfde plantsoort geplant is, is baie dramaties en modern.
  • Gewone kleipotte omgeveer 30cm wyd en 27cm hoog, lyk baie mooi as hulle langs 'n stel trappe, bo-op 'n stoepmuur of op die rand van 'n opgeboude waterelement uitgestal word. Hulle is ook groot genoeg om gawe groei toe te laat vir vetplante soos echeverias of dwergaalwyne en glad nie duur nie.
  • Jy kan 'n klein kompakte plant met 'n vlak wortelstelsel soos 'n dwergaalwyn gerus in 'n hoë en slanke houer plant – dit lyk goed. Om op potgrond te bespaar, plaas 'n paar groot klippe onderin die pot en vul dan op met ou verpakkingsmateriaal soos gebreekte polistireen of leë plastiekkoeldrankbottels tot in die helfte van die pot (dit hou die pot lig). Vul dan eers verder met potgrond.

Voor jy plant

  • Maak seker dat al die potte se dreineringsgate wyd oop is en dat daar ook genoeg van hulle is, of jy kan plante verloor as gevolg van verrotting in grond wat nie goed dreineer nie.
  • Maak alle voorheen gebruikte potte skoon met 'n ontsmettingsmiddel om die oordrag van moontlike wortelsiektes aan nuwe plante te vermy. As hulle ietwat verslete lyk, verf hulle in 'n mooi kleur.
  • Moenie gewone tuingrond gebruik nie. Belê liewer in goeie potgrond wat spesiaal vermeng is vir sukkulente. Vir bougainvilleas kan gewone potgrond gebruik word. Voeg 'n bietjie beenmeel by om sterk wortelgroei aan te moedig.
  • Voedingstowwe is geneig om gou te loog uit potte uit en selfs die taaiste plante het dit nodig. Verskaf af en toe 'n deklaag van vars kompos en voed jou houerplante in die somer met 'n vloeibare misstof.

Bron: Gardening with Succulents, by Prof. Gideon Smith, Struik Publishers, 2005. ISBN 1 77007 082 6.

 
 
  Copyright © 2012. Site designed and maintained by Bluestorm Designs